Christa Steyn

'n Huldeblyk

Christa Steyn

'n Lewenspad

Sanger Jannie du Toit (www.janniedutoit.com) het die voorreg gehad om 25 jaar op die verhoog met Christa saam te werk. Hieronder sy herrineringe aan veral Christa se professionele lewe.

Christina Maria Schutte word op 15 Junie in Krugersdorp gebore.

Christa leer by haar ma, Myra Schutte, haar eerste liedjies op die klavier speel.

Sonder dat haar ma daarvan weet, begelei Christa haar kleuterskool se koortjie wat DIE OUKRAALLIEDJIE sing. Sy's vier.

Christa gaan skool toe. Sy neem ballet - nogal 'n plomperige ballerinatjie.

Christa begin met formele klavierlesse by Martie Koornhof.

Christa speel in die Betty Pack trio saam met Human Coetzee en Piet Koornhof.

Christa wil sangeres word.

Christa (Schutte) word as student aanvaar deur die vermaarde Adolph Hallis. Sy oefen nie. Maestro Hallis sê sy speel nie Beethoven nie, maar Schutte.
Christa speel 'n Beethoven-sonate oor die radio.

Christa begin bietjie oefen, maar dit gaan swaar. Sy verstaan nie teorie nie. Druip weereens teorie-eksamen. Christa speel met orkes. Groot simfonie-orkes. Druip teorie-eksamen (derde keer)

Groot jaar - Christa slaag haar teorie-eksamen met lof!
Christa begelei vir Greta Jones, die kindersterretjie by verskillende geleenthede.

Christa wen die COLLEGIUM MUSICUM kompetisie vir 3 agtereenvolgende jare - sy oefen woes.

Christa begin werk as Musiekregisseur van FIDDLER ON THE ROOF. AJ vd Merwe, Karen Meiring en Alexa Strachan is van die jonges wat onder haar deurgeloop het. Peet van Rensburg is regisseur, en Brenda Potgieter die choreograaf.

Christa is musiekregisseur van SOUND OF MUSIC vir die PU se dramadepartement. Sy skryf ook haar eerste liedjie.

Christa se eerste ses liedjies word opgeneem o.a. EERSTE LIEFDE en BLY BY MY.

Christa wen die komposisie-afdeling van CRESCENDO.

Christa werk saam met Anneli van Rooyen en Jan de Wet.

Christa wen weer die komposie-afdeling van CRESCENDO.
Christa skryf aanmekaar vir baie kunstenaars. Liedjies soos AAN DIE EINDE VD REËNBOOG en EK WIL VIR JOU word gebore.

Michal Grobbelaar, Direkteur van die Johannesburgse Stadskouburg, versoek Jannie du Toit en Christa om 'n program aan te bied vir die 100-jarige bestaan van Johannesburg. So ontstaan BLIK EN SNAAR, 'n aanbieding wat die verhaal van Afrikaanse musiek op 'n heel vermaaklike manier vertel. Hulle vergroot die groep en toer daarna dwarsdeur Suid-Afrika. 'n Volledige televisieproduksie van BLIK EN SNAAR word ook in die vroeë negentigerjare gemaak

Christa se eerste plaat, AAN DIE EINDE VAN DIE REËNBOOG verskyn.

Christa toer saam met Bles Bridges die land vol.

Christa raak betrokke by die ATKV se eerste werkswinkel vir liedjieskrywers - sy is aktief betrokke tot in 2000.

Christa se tweede plaat verskyn en sy sing haar eie liedjies soos o.a. GEEL MADELIEFIES.

Christa toer steeds saam met Bles en speel in die Nico Malan-teater in Kaapstad saam met 'n simfonieorkes.

Christa word musiekregisseur van Crescendo tot 1993

Christa word aangestel as musiekregisseur van die TRUK produksie KERSLIG VERS en MELODIE waar sy weer saam met Jannie werk en hulle begin ook al hoe meer in verskillende programme saam optree.

Christa maak 'n plaat/CD met die nasionale simfonie orkes. Johnny Boshoff is die verwerker en SPIRIT OF ECSTASY kry verskeie toekennings.

Christa en Jannie word deur Thinus Jacobs, hoof van die SAL in Taipei, gevra om 'n Oujaarskonsert daar te kom aanbied.

Suzette Eloff tree saam met Jannie en Christa op in AGTER DIE HORISON waarin onder andere Robert Long se liedjies ACHTER DE HORIZON en VADER OP EEN FIETS voorkom.

Christa begin musiek skryf vir TV-stories en dokumentêre programme.

Christa word die kursusleier van die ATKV se Ligteliedjiewerk-skool tot 2000.

Saam met Marié du Toit bied Christa en Jannie SKADU'S TEEN DIE MUUR aan. Die program het op versoek van ds Henno Cronje van die FAK die lig gesien, en Stephan Bouwer was die samesteller en regisseur.

SKADU'S bring 'n besoek aan Vlaandere, en het ook 'n optrede in die Kurhaus Hotel in Scheveningen, Nederland.

Christa skryf musiek vir PG du Plessis se film 19 SEPTEMBER

Jannie en Christa bied in samewerking met Ilse van Hemert 'n volledige program van Nederlandstalige musiek aan: DE KLEINE MAN.

Christa reik haar volgende album, BURLESQUE, uit.

CHRISTA SPEEL DIE MEESTERS word vrygestel, en word haar mees gewilde album.

DE KLEINE MAN en SKADU'S TEEN DIE MUUR word albei by die eerste KKNK aangebied. In die Kaap tree Anna Davel vir die eerste keer saam met hulle in SKADU'S op.

Ronnie Robot vra Christa om 'n Afrikaanse bydrae tot sy MAJORS FOR MINORS-reeks vir die breinontwikkeling van baba's te maak. STRYKERS VIR SNUITERS word die lekkerste CD waaraan Christa nog gewerk het.

Stephan Bouwer regisseer VAN BLIK EN SNAAR TOT WIE WEET WAAR, Jannie en Christa se volgende verhoogproduksie.

Jannie se album, GELOOF, HOOP EN LIEFDE word uitgereik. Saam met, Christa en Loretté du Toit se CANTATA KAMERKOOR word dit 'n verhoogproduksie wat vir 'n paar jaar dwarsoor die land aangebied is.

BAROQUE FOR BABIES, weer eens in Ronnie Robot se katalogus, is nou in die mark en Christa reik ook haar album RONDO uit.

Saam met Carel Trichardt, Petru Wessels, Lucas Maree en Innes en Greta Benadè bied Christa en Jannie 'n spesiale Kersproduksie aan: SY STER OOR HARTENBOS

Saam met Lucas Maree bied Jannie en Christa MUSIEK EN REPLIEK: KLAS VAN '79 by die KKNK en op verskillende ander plekke aan.

Rosa Keet regisseer 'n produksie getitel BAGASIE met Jannie en Christa vir AARDKLOP.

Lizz Meiring regisseer GENERASIES GAAP NIE met Engelse popmusiek van die 20ste eeu, 'n ligte kykie na die generasiegaping, waarin Christa en Jannie dan ook saam met jonger kunstenaars optree: Sunieda de Beer, Johan Hendriksz en Wouter van de Venter.

Die STICHTING JULES DE CORTE nooi Jannie en Christa om liedjies van De Corte by 'n huldigingsaand vir die gestorwe sanger in Eindhoven uit te voer en hulle tree daarna ook in ander dele van die Lae Lande en in Londen op.

Christa tel gewig op, en neem CHRISTA SPEEL DIE OLDIES op. Die album bevat van die gewildste wêreldtreffers uit die tweede helfte van die 20ste eeu.

Hulle tree by UKKASIE sowel as EUROKASIE op. Hulle word ook in dieselfde jaar saam met 'n aantal SA kunstenaars genooi om deel te hê aan 'n uitruilprojek in België, en besoek daarna Kanada en die VSA vir een van die mees suksesvolle toere van hulle gesamentlike loopbaan. In België ontmoet hulle vir Charlene Truter, wat later ook in NAGKANTOOR saam met hulle sou werk.

Saam met Rouel Beukes tree Christa en Jannie op in 'n musiekteaterstuk HANDE INNIE AS, geregisseer deur Sandra Prinsloo, en met 'n teks deur Alexa Strachan.

Hulle word later in die jaar na KIWIKASIE in Auckland, Nieu-Zeeland genooi, wat daartoe lei dat hulle nog 'n uiters sukses (en genot-)volle maandlange toer, die DOERONDERTOER aanpak. 950 mense woon die konsert in Auckland by - en die aand word een van die werklike hoogtepunte van hulle samewerking.

Christa raak moeg om net te begelei - sy gee haar job vir die Tannie. Die Tannie is baie bly. Die Tannie eet graag.

Christa inisiëer NAGKANTOOR, 'n verhoogproduksie met 'n teks van PG du Plessis en Carl Theunissen, geregisseer deur Sandra Prinsloo. Die vertoning debuteer by KKNK en word by verskillende feeste aangebied. Saam met hulle op die verhoog is Mathys Roets, Frantz Dobrowsky, Marcel van Heerden, Charlene Truter, Yolandá Strauss, Mauritz Lotz, Matthys Maree en Susan Mouton.

Christa word deur die ATKV aangewys as AFRIKAANSE LIEDJIESKRYWER VAN DIE JAAR.

Engemi Ferreira help Jannie en Christa om Jannie en die Tannie daar te stel, en die program debuteer by KKNK.

Jannie en die Tannie toer baie. Na 'n vyftigtal uiters suksesvolle optredes in Suid-Afrika besoek hulle aan die einde Kanada en die VSA vir 'n aantal optredes van Vancouver links bo tot in Fort Lauderdale regs onder in Noord-Amerika.

Die Tannie word maer. 

Christa se jarelange droom, om haar eie professionele opnameateljee te besit, word verwesenlik, wanneer Studio of Note tot stand kom. Douw Steyn sorg as klankingenieur dat opnames goed op die oor val! Studio of Note het reeds uitstekende en hoofsaaklik jong opkomende kunstenaars opgeneem. 

'n Aantal mede-kunstenaars, vriende en kollegas, reel 'n huldigingskonsert vir Christa en Jannie wat as verhoogpaar reeds 20 jaar saam optree, en ONS KOM 'N LANG PAD sien die lig. Selde word soveel bekende kunstenaars saam op 'n verhoog gesien!

Die konsert word later 'n volwaardige verhoogproduksie wat met groot sukses by Innibos, Aardklop en KKNK opgevoer word.

Christa sorg vir prag-verwerkings (oa. PIE JESU en GLORIA TIBI) op Jannie se nuwe album, Diepverlange. Verskeie van die snitte word in Christa se eie klankateljee, Studio of Note, in samewerking met Douw Steyn, as klankingenieur, opgeneem. Voorwaar 'n spanpoging!

Jannie en Christa het so pas elk nog 'n toekenning , naamlik 'n OSKAR vir hulle DVD van Jannie en die Tannie, tydens die Vonk musiek-toekennings ontvang. Die Vonk toekennings kan beskou word as die Suid Afrikaanse ekwivalent van die Grammy Toekenning!

Jannie en Christa toer gedurende Desember vir die soveelste keer deur die Kaapprovinsie. Hierdie keer skop hulle af in Heroldsbaai en maak 'n draai in verskeie dorpe o.a. Steytlerville, Stellenbosch, en Jacobsbaai. Op die spyskaart is hulle produksies JANNIE EN DIE TANNIE asook hulle Kersprogram, KERSFEESTYD. Hulle sluit 'n suksesvolle toer af met 'n besoek aan Joubertina in die Langkloof.

Jannie en Christa ontvang gedurende die jaar verskeie toekennings en nominasies vir hulle produksies: 'n ATKV-Liertoekenning en SAMA-nominasie vir beste Afrikaanse Album, DIEPVERLANGE. In medewerking met Anna Davel, Douw Steyn en Jaci de Villiers ontvang die produksie, DAGBOEK VAN 'N SWERWER ook 'n KANNA-NOMINASIE by die KKNK- kategorie Musiekteater.

Die suksesvolle musiek-blyspel, HOUTKRUIS - DIE MUSICAL, het vir beide Christa en Jannie 'n geleentheid gebied om saam met ander kunstenaars deel te kon wees van die eerste Afrikaanse gospel-musiekspel. Dit is aangebied in die OPERA van die STAATSTEATER in Pretoria met 'n speelvak van langer as 'n maand. Christa het die musikale regie van die verhoogproduksie behartig, terwyl Jannie in die rol van die Biskop te sien was.

HARTSNAAR is die jongste produksie van Jannie en Christa waarin hulle kragte saamsnoer met vier jong kunstenaars, Mariëtte Galjaard, Douw Steyn, Hilton Oosthuizen en Werner Spies. Die tema is 'n jarelange breinkind van Jannie wat nou uiteindelik verwerklik word in die produksie HARTSNAAR. Die groep onderneem ook in Oktober 'n maandlange toer na NEDERLAND en BELGIË, as viering van 20 jaar van gereelde konserttoere deur Jannie en Christa na die Lae Lande.

HARTSNAAR debuteer by INNIBOS.

Soos altyd, het Jannie en Christa weer die land deurkruis en opnuut hulle aanhangers bekoor met hulle immergewilde produksies en geestelike optredes in talle stede en dorpe.

Verskeie KUNSTEFEESTE word ook besoek oa. die KKNK in Oudtshoorn met hulle nuutste produksie, HARTSNAAR, die Volksbladfees in Bloemfontein met Anna Davel in DAGBOEK VAN 'n SWERWER, en Pretoria se nuwe kunstefees, WOORDPOORT met JANNIE EN DIE TANNIE. GEDURENDE September tree hulle ook op by die Aardklopfees in Potchefstroom met DIE LAASTE REIS VAN GEERHARDT VAN DER LENDE, saam met goeie vriende, Pieter en Marjorie Stoffberg.

'n Hoogtepunt van die jaar was sekerlik HARTSNAAR se optrede in die Drakensbergseunsskool se produksie, MUSIC IN THE MOUNTAINS. Jannie en Christa geniet weereens die geleentheid om saam met hierdie uitgelese koor, olv. JOHAN VAN DER SANDT te kan optree.

Die jaar word afgesluit met 'n baie suksesvolle toer - HARTSNAAR MAAK 'n KAAPSE DRAAI. Verskeie dorpe in die Wes- en Ooskaap word besoek oa. Stellenbosch met 'n optrede in die Oude Libertas Amfiteater, Stilbaai, Wildernis, Hermanus, Tulbagh en Jeffreysbaai.

Jannie en Christa tree op by die WOORDFEES in Stellenbosch met hulle nuwe produksie DIE KAAP IS HOLLANDS:"... 'n bloemlesing van klank- en taalgrepe uit 'n dosyn Nederlandstalige kunstenaars se penne..."

Christa en Sergio Zampoli begelei Jannie en Laurika Rauch in die produksie BREL IN BROOKLYN. 

CHRISTA se passie was nog altyd om met jong mense te werk en geleenthede te skep vir jong, nuwe talent. As vervaardiger en regisseur in haar en haar mede-vennoot en seun Douw se ateljee, Studio of Note, fokus sy graag op jong mense, en verleen hulp, veral met die vervaardiging van hulle eerste CD's. Die ateljee het ook 'n liedjiebank tot stand gebring waar nuwe opkomende kunstenaars hulle musiek en lirieke kan stoor.

Christa is ook betrokke as beoordelaar by ATKV CRESCENDO KREATIEF, 'n unieke liedjieskryfkompetisie. 

Jannie vertel sy musiekstorie van 40 jaar met 'n landswye musiekaanbieding ONDERWEG. Die teks is deur P.G. du Plessis geskryf en die regie word waargeneem deur Emma Bekker. Christa is soos altyd verantwoordelik vir die musiekverwerkings en word op die verhoog bygestaan deur die gevierde tjellis, Susan Mouton. 

Jannie en Christa word deur die ATKV vereer vir hulle jarelange bydrae op die gebied van Afrikaanse ligte musiek en sang. 

Gevorderde bors- en lewerkanker is by Christa gediagnoseer. Talle van haar vriende in die musiekbedryf span saam en beplan verskeie konserte om haar finansieel by te staan, aangesien sy nie voluit sal kan werk weens haar siekte nie.