verhoog - kerslig, vers en melodie
KERSLIG, VERS EN MELODIE het voortgevloei uit twee jaar se "liedjie-aande" in Jannie se huis. Anneli van Rooyen het TRUK aan die begin van 1983 daarvan oortuig om met hierdie reeks konserte in Pretoria 'n verhoog aan kusntenaars te bied. Die formaat was 'n aand waar tydens die eerste gedeelte ongeveer drie onbekende kunstenaars aan die gehoor bekend gestel is, gevolg deur die "hoofkunstenaar" wat gekies is uit die geledere van kunstenaars wat breedweg beskou kon word as deel van die vernuwing in Afrikaanse musiek.
Die gunstige reaksie van die luisterpubliek sowel as van die media het bevestig dat 'n musiekbeweging, waarvan die woelinge reeds 'n geruime tyd daar was, finaal deurgebreek het. Die musiek waaruit die program bestaan het, het 'n sterk "folk"-karakter met die klem op sinvolle liriek. Daar is gepoog om Afrikaanse musiek van gehalte te bevorder wat aanklank sou vind by 'n gesofistikeerde gehoor. Ten spyte van die bewering deur 'n groot deel van die media dat die "Musiek en Liriek-beweging" iets van die verlede was, het "KERSLIG" vir meer as 'n dekade voortgegaan om 'n invloed uit te oefen en die "luisterlied" te bevorder.
Nadat Jannie in 1988 uit die diens van Tukkies tree, word hy as organiseerder by die Ligtemusiek-Departement van TRUK aangestel. Hy begin met 'n reeks van kabaretprogramme, sowel as die reeks JAZZ FOR YOU. Ook KERSLIG word sy verantwoordelikheid, en 'n orkes onder leiding van Christa Steyn sorg vir die begeleiding. Sy is, benewens orkesleier en pianis, ook verantwoordelik vir die musiekverwerkings. Nadat hy in 1988 voltyds in diens was, bly hy nog vir vier jaar op 'n ad hoc basis in bogemelde hoedanigheid werksaam.
Oor 'n tydperk van tien jaar het uiteenlopende kunstenaars soos David Kramer, Laurika Rauch, Louis van Rensburg, Steve Hofmeyr, Richard en Lochner, Rina Hugo en Lucas Maree as hoofkunstenaars opgetree, terwyl Laurinda Hofmeyr, Lieze Stassen, Philip Moolman, Stef Kruger en nog vele ander as jong kunstenaars daar blootstelling gekry het.
|