verhoog - geloof, hoop en liefde

Jannie het dikwels geestelike liedjies op sy "gewone" of "sekulêre" albums ingesluit. Die rede daarvoor is volgens hom die feit dat hy sy Christelike belydenis as deel van sy gewone lewe sien, en nie as iets wat afsonderlik beskou moet word nie.

Op versoek van 'n goeie vriend - Clive Risko van BRETTIAN MUSIEK - het daar egter aan die begin van 1999 'n album - JANNIE DU TOIT SING VAN GELOOF, HOOP EN LIEFDE - verskyn, waarop al die geestelike liedjies wat hy deur jare opgeneem het, byeen gebring is. Ook enkele liedjies wat eerder "besielend" as "geestelik" genoem sou kon word verskyn op die album , soos Koos du Plessis en Laurinda Hofmeyr se EENVOUD, VLIEG HOOG met musiek van Christa Steyn en Jannie se liedjie MY WENS VIR JULLE IS LIEFDE. Enkele snitte is ook spesiaal vir die album opgeneem, naamlik Jannie se liedjie MY GEBED, die ONS VADER met orrelbegeleiding deur Wim Viljoen, en twee Negro Sprituals, JESUS IS MY LORD met Musica Mundo en BACK TO BASICS met Melody Four.

Die album is aanvanklik bekend gestel met 'n verhoogaanbieding waarin Jannie en Christa die musiek lewendig saam met 'n koor en ander kunstenaars uitvoer. As gevolg van al die vreugde wat die kunstenaars uit die aanbieding geput het, asook die waardering van gehore het dit daartoe gelei dat die program oor 'n tydperk van meer as twee jaar dwarsoor Suid-Afrika aangebied is. Meesal saam met hulle op die verhoog was Andy en Murray Lubbe, en die Cantate Kamerkoor van Loretté du toit.

Die geestelike diepte en die deurleefde vertolking van die kunstenaars was 'n blywende indruk van hierdie program wat waarskynlik sy hoogtepunt bereik het tydens 'n aanbieding in die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom by AARDKLOP 2000.

 
© Kopiereg 2008

Copyright©2008. All rights reserved
Best Browser - Internet Explorer 6; Resolution - 800x600
Hosted by
Interexcel - Web Design and web site design are the specialists of this Pretoria based company.