verhoog - die draai van die eeu

Met die derde millenium om die draai het Jannie en Christa in 1996 na verskynsels van die 20ste eeu en verwagtinge vir die nuwe eeu gekyk. Die kabaret lewer sosiale kommentaar, bevraagteken populêre persepsies en teken protes aan teen die etikettering van die "gewone" mens as onaanvaarbaar - die veronderstelling dat "straight" sonder meer oninteressant en vervelig is. Dit bekyk die ontwrigtende rol van die TV in 'n huishouding, simpatiseer met die moderne mens wat hom gedurig in transito bevind, spreek die oeroue tema's van oorlog en liefde aan, maar beweeg ook op die terrein van bewuste kunstenaarskap om die frustrasie met die media te verwoord - die magtige en dikwels genadelose pen van die kritikus. Die geloof in 'n beter toekoms (VOLGENDE WINTER) en die wete dat die woelinge, modes en giere van die dag deur tydsverloop uitgewis word (DIE VAALRIVIER) besweer die ontreddering, en word die egte tema van hierdie kabaret.

Die aanbieding is geregisseer deur 'n skoolvriend van Jannie uit Menlopark se dae - veteraanakteur Chris van Niekerk. Nuwe komposisies van beide Jannie en Christa is ingesluit in die program, onder andere liedjies van Jannie se album VOLGENDE WINTER wat in dieselfde jaar uitgereik is.

 
© Kopiereg 2008

Copyright©2008. All rights reserved
Best Browser - Internet Explorer 6; Resolution - 800x600
Hosted by
Interexcel - Web Design and web site design are the specialists of this Pretoria based company.