| Jaar |
|
1951 |
Johannes Hendrik du Toit word op 13 Desember in Heidelberg, Transvaal (nou Mpumalanga), gebore. |
1957 |
Jannie begin klavierlesse neem, 'n tweede onderwyseres op Balfour probeer later ook. |
1958 |
Christina Maria Schutte word op 15 Junie in Krugersdorp gebore.
Jannie kry die rol van die kat in Grootvlei Laerskool se operette. |
1960 |
Jannie kry 'n goue diploma vir sang by Balfour se Kunswedstryd. |
1961 |
Christa leer by haar ma, Myra Schutte, haar eerste liedjies op die klavier speel. |
1962 |
Sonder dat haar ma daarvan weet, begelei Christa haar kleuterskool se koortjie wat DIE OUKRAALLIEDJIE sing. Sy's vier. |
1963 |
Grootvlei Laerskool kry 'n koor. Jannie sing sy eie wysie.
Christa gaan skool toe. Sy neem ballet - nogal 'n plomperige ballerinatjie. |
1964 |
Christa begin met formele klavierlesse by Martie Koornhof. |
1965 |
Christa speel in die Betty Pack trio saam met Human Coetzee en Piet Koornhof. Sy speel baie beter klavier as Jannie. |
1966 |
Jannie se ouers trek van die platteland na Menlopark, waar mnr Izak Loots ook sy bes probeer met die klavierlesse. |
1967 |
Mnr Loots gee op met Jannie. Jannie kry 'n kitaar en speel in 'n skoolrevue met twee standerd nege-meisies, Jana Cilliers en Annette du Plessis, as regisseurs. |
1968 |
Christa wil sangeres word. Jannie sing mooier as sy. |
1969 |
Christa (Schutte) word as student aanvaar deur die vermaarde Adolph Hallis. Sy oefen nie. Maestro Hallis sê sy speel nie Beethoven nie, maar Schutte.
Jannie speel in die skoolband kitaar en klavier en hy sing. Christa speel 'n Beethoven-sonate oor die radio. |
1970 |
Jannie is in die Lugmaggimnasium. Hy leer Beatle-akkoorde uit 'n boek.
Christa gaan studeer musiek by die PU vir CHO, en begin met klavierlesse by prof. Pieter de Villiers. |
1971 |
Jannie begin Regte studeer op RAU. Hy speel kitaar en sing in 'n universiteitsband STERAU. Hy ontmoet ook vir Morg Jacobs in Dromedaris Manskoshuis. Morg het reeds in 1969 sy eerste Afrikaanse liedjie geskryf - 'n toonsetting van Leipoldt se BOGGOM EN VOERTSEK.
Christa begin bietjie oefen, maar dit gaan swaar. Sy verstaan nie teorie nie. Druip weereens teorie-eksamen Christa speel met orkes. Groot simfonie-orkes. Druip teorie-eksamen (derde keer) |
1972 |
Jannie skryf sy eerste Afrikaanse liedjie - 'n toonsetting van AG Visser se "ROSA ROSARUM"
Groot jaar - Christa slaag haar teorie-eksamen met lof! Christa begelei vir Greta Jones, die kindersterretjie by verskillende geleenthede. |
1973 |
Morg en Jannie begin saam met Andy Lubbe en Clive Doubell die folk-groep TRILOGIE. Hulle word die eerste keer op die radio-program STUDENTEVARIA gehoor.
Christa wen die COLLEGIUM MUSICUM kompetisie vir 3 agtereenvolgende jare - sy oefen woes. |
1975 |
TRILOGIE reik hulle eerste solus-sewe plaat getitel ANITALIEF uit, en verskyn op die proefuitsendings van Suid-Afrika se eerste televisiekanaal.
DROOM (LANGS STILLE WATERS) TRILOGIE se tweede "single", die enigste Afrikaanse inskrywing uit ongeveer 'n honderd uit Suid-Afrika, kry 'n honorary mention-prys in die AMERICAN SONG FESTIVAL, en is die enigste Suid-Afrikaanse inskrywing wat dit so ver bring.
TRILOGIE haal weer die eindronde van CRESCENDO. |
1977 |
TRILOGIE gaan uitmekaar as gevolg van die feit dat Andy na Nelspruit, en Morg na Amanzimtoti verhuis. Dobbel en Jannie speel in nog 'n paar bands terwyl hulle nog albei in Johannesburg woon.
Jannie voltooi sy LLB by RAU. Hy hoor die STELLENBOSSE UNIVERSITEITSKOOR onder leiding van oom Phillip Mac Lachlan, en word summier bekeer tot a capella koorsang - iets waarin hy nooit vantevore belang gestel het nie. |
1978 |
Christa word maer.
Jannie werk vanaf 1 Januarie tot einde Junie as aanklaer in Johannesburg. Hy skryf 'N LIEDJIE VIR JOU in die tyd. Van 1 Julie doen hy sy articles by die Staatsprokureur in Pretoria. Hy begin in November in die AD LIBITUM-koor onder leiding van Kobus de Witt sing, waar hy vir Ansa ontmoet met wie hy later sou trou, en wat die regié van talle van sy produksies hanteer het. |
1979 |
Christa begin werk as Musiekregisseur van FIDDLER ON THE ROOF. AJ vd Merwe, Karen Meiring en Alexa Strachan is van die jonges wat onder haar deurgeloop het. Peet van Rensburg is regisseur, en Brenda Potgieter die choreograaf.
Rosa Keet kontak Jannie vir die eerste MUSIEK EN LIRIEK-konsert in die LAAGER van die MARKTEATER in Johannesburg as uitvloeisel van die LUISTERLIEDJIE-"beweging". Op die manier begin hy met 'n sololoopbaan. Nog twee reekse van MUSIEK EN LIRIEK volg daardie jaar saam met Laurika, Anton, Clarabelle en Louis van Rensburg.
Jannie mis 'n groot geleentheid aan die einde van daardie jaar om ook in Stellenbosch deel van die aanbieding te wees, maar dit is agv 'n Europese reis saam met AD LIBITUM. In Amsterdam hoor en koop hy die eerste keer 'n Nederlandse album: DE WONDERLIJKE AVONTUREN VAN HERMAN VAN VEEN. 1980
Toe hy terug in Pretoria is, kry Jannie IK ZOU WEL EENS WILLEN WETEN van Jules de Corte persent, en dié twee kunstenaars se werk oefen van daardie oomblik af 'n onuitwisbare invloed op sy loopbaan uit.
Christa is musiekregisseur van SOUND OF MUSIC vir die PU se dramadepartement.
Jannie neem 'N LIEDJIE VIR JOU op, en los van tyd tot tyd vir Carike Keuzenkamp af as aanbieder van KRAAINES, 'n kinderprogram op TV. Sy leerklerkskap verstryk op 19 Oktober en hy bedank twee dae later uit die regsberoep met die oog op 'n musiekloopbaan. Hy vertrek dadelik op uitnodiging van RADIO EN TV DAGBOEK om die pas geopende Tsitsikama Wandelpad te gaan uitprobeer.
Na afloop van die staptog vind hy 'n boodskap van prof. Chris Lamprecht in sy prokureurskantoor: hy word versoek om vir Tukkies met 'n ligte musiekgroep te begin. Hy besef tot vandag dat dit gebedsverhoring is.
Christa skryf haar eerste liedjies. |
1981 |
Christa se eerste ses liedjies word opgeneem o.a. EERSTE LIEFDE en BLY BY MY.
Jannie aanvaar diens by UP, en skryf 'n revueprogram getitel LUISTER NA DIE LIEDJIES vir TUKS 80. Hy sou in die sewe jaar wat by UP goeie ervaring opdoen. Hy werk in die tyd saam met onder andere prof Anna Neethlingh-Pohl en dit word vir hom 'n leerskool wat oor die hele spektrum van musiek- en verhoogwerk strek.
Hy stel sy album 'N LIEDJIE VIR JOU op sy eie koste vry, en gebruik die verwysingsnommer JNS01, gebaseer op sy bynaam in die Latynklas op skool en ook op Universiteit: JANUS. Hierdie uitreiking lei tot die totstandkoming van JNS MUSIEK, 'n verspreider van kwaliteit Suid-Afrikaanse musiek.
In samewerking met 'n advokaat in Pretoria, Johan Kruger, begin Jannie met liedjie-aande in Pretoria by sy huis in Margaretastraat. Dit inspireer 'n klomp liedjiemakers om hulle liedjies vir 'n klein gehoor te sing. Bekende name wat daar te sien en te hoor was sluit Koos du Plessis, Janita Claassen, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Anneli van Rooyen, Richard van der Westhuizen, en Jannie se destydse huismaat, Andy Lubbe, sowel as Morg Jacobs van TRILOGIE, in. TRUK se KERSLIG VERS EN MELODIE sou later hieruit voorstspruit. |
1982 |
Jannie handel sy toelatingseksamens af, en word toegelaat as prokureur.
Christa wen die komposisie-afdeling van CRESCENDO. |
1983 |
Jannie skryf sy eerste musiekblyspel - LOELOERAAI - in samewerking met prof Anna Neethlingh-Pohl vir TUKS 83. Innes Benadé was in die titelrol, en Jannie speel Kerneels Langenhoven.
Christa werk saam met Anneli van Rooyen en Jan de Wet. |
1984 |
Christa wen weer die komposie-afdeling van CRESCENDO. Christa skryf aanmekaar vir baie kunstenaars. Liedjies soos AAN DIE EINDE VD REËNBOOG en EK WIL VIR JOU word gebore.
Jannie skryf sy eie musiekblyspel - GANSDANS - gebaseer op 'n tema in vyfslagmaat vir TUKS 84. |
1986 |
Michal Grobbelaar, Direkteur van die Johannesburgse Stadskouburg, versoek Jannie en Christa om 'n program aan te bied vir die 100-jarige bestaan van Johannesburg. So ontstaan, BLIK EN SNAAR, 'n aanbieding wat die verhaal van Afrikaanse musiek op 'n heel vermaaklike manier vertel. Hulle vergroot die groep en toer daarna dwarsdeur Suid-Afrika. 'n Volledige televisieproduksie van BLIK EN SNAAR word ook in die vroeë negentigerjare gemaak
Christa se eerste plaat, AAN DIE EINDE VAN DIE REËNBOOG verskyn.
Jannie neem saam met Nick Taylor, Lucas Maree en Coenie de Villiers 'n huldeblyk aan Koos du Plessis op - KOOS SE PLAAT. Dit bevat slegs liedjies wat nooit deur Koos self opgeneem is nie
Christa toer saam met Bles Bridges die land vol.
Albei is betrokke by die ATKV se eerste werkswinkel vir liedjieskrywers - Christa tot in 2000, Jannie net vir twee jaar en daarna weer vanaf die vroeë negentigs. |
1987 |
Jannie skryf sy laaste musiekblyspel, RIP, vir Tukkies, en bied dit saam met die studente aan. Hy reik sy tweede solo-langspeelplaat uit - DRIE-UUR IN DIE MÔRE. Christa behartig sommige van die musiekverwerkings, en hy sluit haar liedjie EK WIL VIR JOU by die album in.
Ook Christa se tweede plaat verskyn en sy sing haar eie liedjies soos o.a. GEEL MADELIEFIES. Christa toer steeds saam met Bles en speel in die Nico Malan-teater in Kaapstad saam met 'n simfonieorkes. |
1988 |
Christa word musiekregisseur van Crescendo tot 1993.
Jannie tree uit die diens van Tukkies, en word as organiseerder van ligte musiek by die TRUK (die Transvaalse raad vir uitvoerende kunste) aangestel. Hy neem verantwoordelikheid vir die reeds bestaande KERSLIG VERS EN MELODIE, en begin ook reekse van jazz en kabaret vir TRUK. Christa word aangestel as musiekregisseur van KERSLIG, en Jannie en Christa begin ook al hoe meer in verskillende programme saam optree. Pieter van der Westhuizen, mede-wenner van CRESCENDO in 1986, word genooi om as deel van BLIK EN SNAAR by ambassades in Europa op te tree. Jannie word deur Stephan Bouwer genader om deel te wees van 'n "kabaretkonsert" - VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN - saam met Laurika Rauch, wat met groot sukses landswyd aangebied is. |
1989 |
Jannie verlaat die voltydse diens van TRUK, en 'n droom word uiteindelik verwesenlik om voltyds musikant te word. Hy hanteer TRUK se ligte musiek vir nog 'n paar jaar as vryskut.
Christa maak 'n plaat/CD met die nasionale simfonie orkes. Johnny Boshoff is die verwerker en SPIRIT OF ECSTASY kry verskeie toekennings. Christa en Jannie word deur Thinus Jacobs, hoof van die SAL in Taipei, gevra om 'n Oujaarskonsert daar te kom aanbied. Jannie maak so kontak met RITEK, die eerste CD-vervaardiger in Suid-Oos Asië. |
1990 |
Suzette Eloff tree saam met Jannie en Christa op in AGTER DIE HORISON waarin onder andere Robert Long se liedjies ACHTER DE HORIZON en VADER OP EEN FIETS voorkom. Saam met Laurika doen Jannie 'n volgende kabaretkonsert van Stephan Bouwer getitel OP DIE HARTSTOG BOULEVARD. Hulle open die RENDEZVOUS - teater met dié aanbieding.
Jannie reik sy album PALET uit - sy album wat die grootste mate van kommersiële sukses gehad het. Dit word vervaardig deur RITEK in Taiwan en in Suid-Afrika versprei deur JNS MUSIEK via EMI.
Hulle onderneem 'n toer deur Zimbawe. |
1991 |
Christa begin musiek skryf vir TV-stories en dokumentére programme.
Na die sukses van PALET begin Jannie ook ander kunstenaars help om hulle CD's op die mark te kry. Op die manier kom die maatskappy JNS MUSIEK tot stand. Christa, Lucas, Coenie, Surendran Reddy, Clarabelle, Mimi Coertse, Cutt Glas, Amanda, David Kramer, Nataniël, Herman van den Berg, Anna Davel, Lize Beekman, Wouter van de Venter en talle ander sou mettertyd (dikwels hulle eerste) CD's deur JNS versprei.
Christa word die kursusleier van die ATKV se Ligteliedjiewerk-skool tot 2000. |
1992 |
Saam met Marié du Toit bied Jannie en Christa SKADU'S TEEN DIE MUUR aan. Die program het op versoek van ds Henno Cronjé van die FAK die lig gesien, en Stephan Bouwer was die samesteller en regisseur.
Jannie bekom die Suid-Afrikaanse agentskap vir RITEK, die Taiwanese CD-vervaardiger, en begin JANUS MUSIEK saam met 'n vriend uit die jare by TUKKIES, Drikus Kriek, wat teen die jaar 2000 die maatskappy oorneem, en dit steeds saam met sy vrou Carol bedryf as JANUS DATA.
Saam met Marié du Toit bied Jannie en Christa SKADU'S TEEN DIE MUUR aan. Die program het op versoek van die FAK die lig gesien, en Stephan Bouwer was die samesteller en regisseur. |
1993 |
SKADU'S bring 'n besoek aan Vlaandere, en het ook 'n optrede in die Kurhaus Hotel in Scheveningen, Nederland.
Christa skryf musiek vir PG du Plessis se film 19 SEPTEMBER. |
1994 |
Jannie en Christa bied in samewerking met Ilse van Hemert 'n volledige program van Nederlandstalige musiek aan: DE KLEINE MAN.
Christa reik haar volgende album, BURLESQUE, uit.
'n Vriend van Jannie, Ferdi Schenck, raak betrokke en neem mettertyd die leisels van JNS MUSIEK oor - hy bedryf steeds die maatskappy vanuit Pretoria. |
1995 |
CHRISTA SPEEL DIE MEESTERS word vrygestel, en word haar mees gewilde album.
DE KLEINE MAN en SKADU'S TEEN DIE MUUR word albei by die eerste KKNK aangebied. In die Kaap tree Anna Davel vir die eerste keer saam met hulle in SKADU'S op. |
1996 |
Jannie stel 'n nuwe album vry: VOLGENDE WINTER. Hulle doen saam 'n verhoogproduksie met Jannie se skoolpêl, Chris van Niekerk, as regisseur: DIE DRAAI VAN DIE EEU. |
1997 |
Ronnie Robot vra Christa om 'n Afrikaanse bydrae tot sy MAJORS FOR MINORS-reeks vir die breinontwikkeling van baba's te maak. STRYKERS VIR SNUITERS word die lekkerste CD waaraan Christa nog gewerk het.
Stephan Bouwer regisseer VAN BLIK EN SNAAR TOT WIE WEET WAAR, hulle volgende verhoogproduksie. |
1998 |
Jannie se album, GELOOF, HOOP EN LIEFDE word uitgereik. Saam met, Christa, Loretté du Toit se CANTATÈ KAMERKOOR asook pa en seun Andy en Murray Lubbe word dit 'n verhoogproduksie wat vir 'n paar jaar dwarsoor die land aangebied is.
BAROQUE FOR BABIES, weer eens in Ronnie Robot se katalogus, is nou in die mark en Christa reik ook haar album RONDO uit.
Saam met Carel Trichardt, Petru Wessels, Lucas Maree en Innes en Greta Benadé bied hulle 'n spesiale Kersproduksie aan: SY STER OOR HARTENBOS |
1999 |
Saam met Lucas Maree bied Jannie en Christa MUSIEK EN REPLIEK: KLAS VAN '79 by die KKNK en op verskillende ander plekke aan..
Rosa Keet regisseer 'n produksie getitel BAGASIE met Jannie en Christa vir AARDKLOP.
Jannie open sy gastehuis DIE AGTERPLAAS B+B en Melville op April fool's dag. |
2000 |
Ilse van Hemert stel DE KLEINE MAN SPOORLOOS! saam, en regisseer dit. |
2001 |
Lizz Meiring regisseer GENERASIES GAAP NIE met Engelse popmusiek van die 20ste eeu, 'n ligte kykie na die generasiegaping, waarin Christa en Jannie dan ook saam met jonger kunstenaars optree: Sunieda de Beer, Johan Hendriksz en Wouter van de Venter.
Die STICHTING JULES DE CORTE nooi Jannie en Christa om liedjies van De Corte by 'n huldigingsaand vir die gestorwe sanger in Eindhoven uit te voer en hulle tree daarna ook in ander dele van die Lae Lande en in Londen op.
Christa tel gewig op, en neem CHRISTA SPEEL DIE OLDIES op. Die album bevat van die gewildste wêreldtreffers uit die tweede helfte van die 20ste eeu. |
2002 |
Hulle tree by UKKASIE sowel as EUROKASIE op. Hulle word ook in dieselfde jaar saam met 'n aantal SA kunstenaars genooi om deel te hê aan 'n uitruilprojek in België, en besoek daarna Kanada en die VSA vir een van die mees suksesvolle toere van hulle gesamentlike loopbaan. In België ontmoet hulle vir Charlene Truter, wat later ook in NAGKANTOOR saam met hulle sou werk.
Jannie neem sy album LEEUSPRUIT op, wat vir 'n SAMA-toekenning genomineer word. |
2003 |
Saam met Rouel Beukes tree hulle op in 'n musiekteaterstuk HANDE INNIE AS, geregisseer deur Sandra Prinsloo, en met 'n teks deur Alexa Strachan. Hulle word later in die jaar na KIWIKASIE in Auckland, Nieu-Zeeland genooi, wat daartoe lei dat hulle nog 'n uiters sukses (en genot-)volle maandlange toer, die DOERONDERTOER aanpak. 950 mense woon die konsert in Auckland by - en die aand word een van die werklike hoogtepunte van hulle samewerking.
Christa raak moeg om net te begelei - sy gee haar job vir die Tannie. Die Tannie is baie bly. Die Tannie eet graag. |
2004 |
Christa inisiëer NAGKANTOOR, 'n verhoogproduksie met 'n teks van PG du Plessis en Carl Theunissen, geregisseer deur Sandra Prinsloo. Die vertoning debuteer by KKNK en word by verskillende feeste aangebied. Saam met hulle op die verhoog is Mathys Roets, Frantz Dobrowsky, Marcel van Heerden, Charlene Truter, Yolandé Strauss, Mauritz Lotz, Matthys Maree en Susan Mouton.
Agterplaas Produksies sien die lig.
Christa word deur die ATKV aangewys as AFRIKAANSE LIEDJIESKRYWER VAN DIE JAAR. |
2005 |
Engemi Ferreira help Jannie en Christa om Jannie en die Tannie daar te stel, en die program debuteer by KKNK.
Jannie en die Tannie toer baie. Na 'n vyftigtal uiters suksesvolle optredes in Suid-Afrika besoek hulle aan die einde Kanada en die VSA vir 'n aantal optredes van Vancouver links bo tot in Fort Lauderdale regs onder in Noord-Amerika. |
2006 |
Die Tannie word maer.'n Nuwe program wat saamgestel en geregisseer word deur AJ van der Merwe word in die vooruitsig gestel.
Christa beplan die opening van haar eie klankateljee, Studio of Note en beplan ook om JANUS MUSIEK daarby te betrek.
Christa se jarelange droom, om haar eie professionele opnameateljee te besit, word verwesenlik, wanneer Studio of Note tot stand kom. Douw Steyn sorg as klankingenieur dat opnames goed op die oor val! Studio of Note het reeds uitstekende en hoofsaaklik jong opkomende kunstenaars opgeneem. Musiekverwerkings vir Jannie en die Tannie, hulle uiters gewilde kabaret, is ook 'n produk van Studio of Note!
'n Aantal mede-kunstenaars, vriende en kollegas, reël 'n huldigingskonsert vir die verhoogpaar wat reeds 20 jaar saam optree, en Ons kom 'n lang pad sien die lig. Selde word soveel bekende kunstenaars saam op 'n verhoog gesien! Die konsert word later 'n volwaardige verhoogproduksie wat met groot sukses by Innibos, Aardklop en KKNK opgevoer word. |
2007 |
Jannie bereik 'n besliste hoogtepunt met die vrystelling van sy nuwe album, Diepverlange in samewerking met Maranatha. Insette word gelewer deur mede-kunstenaars, Coenie de Villiers, Chris Chameleon, en andere. Christa sorg weereens vir prag-verwerkings soos onder andere PIE JESU en GLORIA TIBI. Verskeie van die snitte op Diepverlange, word in haar eie klankateljee, Studio of Note, in samewerking met Douw Steyn, as klankingenieur, opgeneem. Voorwaar 'n spanpoging!
Jannie en Christa het so pas elk nog 'n toekenning , naamlik 'n OSKAR vir hulle DVD van Jannie en die Tannie, tydens die Vonk musiek-toekennings ontvang. Die Vonk toekennings kan beskou word as die Suid Afrikaanse ekwivalent van die Grammy Toekenning!
Jannie en Christa toer gedurende Desember vir die soveelste keer deur die Kaapprovinsie. Hierdie keer skop hulle af in Heroldsbaai en maak `n draai in verskeie dorpe o.a. Steytlerville, Stellenbosch, en Jacobsbaai. Op die spyskaart is hulle produksies JANNIE EN DIE TANNIE asook hulle Kersprogram, KERSFEESTYD. Hulle sluit 'n suksesvolle toer af met 'n besoek aan Joubertina in die Langkloof. |
2008 |
Jannie en Christa ontvang gedurende die jaar verskeie toekennings en nominasies vir hulle produksies: 'n ATKV-Liertoekenning en SAMA-nominasie vir beste Afrikaanse Album, DIEPVERLANGE. In medewerking met Anna Davel, Douw Steyn en Jaci de Villiers ontvang die produksie, DAGBOEK VAN 'N SWERWER ook 'n KANNA-NOMINASIE by die KKNK- kategorie Musiekteater.
Jannie se jarelange toewyding en volgehoue bydrae tot Afrikaanse Musiek word in September vereer met 'n ERE-PENNING vir Ligte Afrikaanse Musiek, toegeken deur die SA AKADEMIE vir KUNS en WETENSKAP.
Die suksesvolle musiek-blyspel, HOUTKRUIS - DIE MUSICAL, het vir beide Christa en Jannie 'n geleentheid gebied om saam met ander kunstenaars deel te kon wees van die eerste Afrikaanse gospel-musiekspel. Dit is aangebied in die OPERA van die STAATSTEATER in Pretoria met 'n speelvak van langer as 'n maand. Christa het die musikale regie van die verhoogproduksie behartig, terwyl Jannie in die rol van die Biskop te sien was.
HARTSNAAR is die jongste produksie van Jannie en Christa waarin hulle kragte saamsnoer met vier jong kunstenaars, Mariétte Galjaard, Douw Steyn Hilton Oosthuizen en Werner Spies. Die tema is 'n jarelange breinkind van Jannie wat nou uiteindelik verwerklik word in die produksie HARTSNAAR. Die groep onderneem ook in Oktober 'n maandlange toer na NEDERLAND en BELGIË, as viering van 20 jaar van gereelde konserttoere deur Jannie en Christa na die Lae Lande. www.hartsnaar.co.za
HARTSNAAR debuteer by INNIBOS. |
2009 |
Soos altyd, het Jannie en Christa weer die land deurkruis en opnuut hulle aanhangers bekoor met hulle immergewilde produksies en geestelike optredes in talle stede en dorpe.
Verskeie KUNSTEFEESTE word ook besoek oa. die KKNK in Oudtshoorn met hulle nuutste produksie, HARTSNAAR, die Volksbladfees in Bloemfontein met Anna Davel in DAGBOEK VAN 'n SWERWER, en Pretoria se nuwe kunstefees, WOORDPOORT met JANNIE EN DIE TANNIE. GEDURENDE September tree hulle ook op by die Aardklopfees in Potchefstroom met DIE LAASTE REIS VAN GEERHARDT VAN DER LENDE, saam met goeie vriende, Pieter en Marjorie Stoffberg.
'n Hoogtepunt van die jaar was sekerlik HARTSNAAR se optrede in die Drakensbergseunsskool se produksie, MUSIC IN THE MOUNTAINS. Jannie en Christa geniet weereens die geleentheid om saam met hierdie uitgelese koor, olv. JOHAN VAN DER SANDT te kan optree.
Die jaar word afgesluit met 'n baie suksesvolle toer - HARTSNAAR MAAK 'n KAAPSE DRAAI. Verskeie dorpe in die Wes- en Ooskaap word besoek oa. Stellenbosch met 'n optrede in die Oude Libertas Amfiteater,Stilbaai, Wildernis, Hermanus, Tulbagh en Jeffreysbaai. |