Jannie en die Tannie na die Lae Lande …

MEDIAVRYSTELLING
JANNIE DU TOIT EN CHRISTA STEYN IN DIE BENELUX

Deur bemiddeling van die Marnixring Internationale Serviceclub is Jannie du Toit en Christa Steyn as gaskunstenaars genooi na die Vlaamse Nationale Zangfeest wat op Sondag 23 April in die Sportpaleis in Antwerpen plaasvind. Die Marnixring het ook vier verdere optredes gereël, en danksy ander uitnodigings word die besoek 'n reis wat 'n tiental optredes in Nederland en Luxemburg asook Londen insluit.

Jannie du Toit volg ‘n musiekloopbaan na regsopleiding en taalstudies. Hy sing gedurende die sewentigerjare in die Afrikaanse folk-groep TRILOGIE, en word in 1979 bekend as solo-sanger tydens die “MUSIEK EN LIRIEK” –kleinkunsoplewing in Afrikaanse musiek. Gedurende die tagtigerjare skryf hy musiekblyspele en word bekend as kabaretsanger, maar begin ook ‘n katalogus van minder kommersiële Suid-Afrikaanse musiek, JNS MUSIEK. Vanweë sy siening dat Afrikaans skade gely het as gevolg van die gebrek aan kontak met die Nederlandstalige musiekwêreld, stel hy ook in sy verhoogoptredes en opnames baie Suid-Afrikaners sedert die vroeë tagtigerjare bekend aan Nederlandstalige kleinkuns.

Christa Steyn ontvang klavieropleiding van die gevierde leermeesters Adolph Hallis en Pieter de Villiers. Sy hanteer musiekregié van blyspele by die Potchefstoomse Universiteit en raak betrokke by ligte musiek in die ALABAMA Studentegeselskap. Sy skryf ook sedert die laat vroeë tagtigerjare ‘n groot aantal Afrikaanse liedjies. Vanweë haar voorliefde vir begeleiding, tree sy gou op die voorgrond as pianis vir 'n groot aantal kunstenaars, maar werk die afgelope twee dekades reeds as medekunstenaar, liedjieskrywer, begeleier en verwerker saam met Jannie du Toit.

Jannie en Christa se verbintenis met in die Lae Lande sluit o.a. in ‘n ambassadetoer met ‘n revueprogram oor die ontwikkeling van Afrikaanse musiek BLIK EN SNAAR (1988), ‘n program oor die musiek van Koos du Plessis SKADU'S TEEN DIE MUUR (1992), en optredes by die opening van die Antwerpse Boekenbeurs (1997), by ‘n huldigingsaand in Eindhoven vir Jules de Corte (wat Jannie persoonlik geken het) op uitnodiging van die Stichting Jules de Corte (2001) en deelname aan die Zuid-Afrikaanse Cultuurdagen in Vlaandere (2003). Ten einde hulle programme vir Nederlandstalige gehore toeganklik te maak, praat Jannie op die verhoog uitsluitlik Nederlands, terwyl die musiek hoofsaaklik in Afrikaans is.

Die eerste gedeelte van hulle program vir die Benelux-toer bestaan meesal uit liedere wat sedert die eerste helfte van die vorige eeu tot heel onlangs geskryf is oor plekke in Suid-Afrika. Dit gaan in die eerste plek oor fisiese landskappe, maar ook oor landskappe van die hart. Daar is werk van komponiste, liedjieskrywers en teksskrywers so uiteenlopend soos PG du Plessis, Johannes Kerkorrel, Anna Davel en Enoch Sontonga, maar natuurlik ook van Jannie en Christa self.

Die tweede gedeelte van die aand is ‘n kabaretprogram getitel JANNIE EN DIE TANNIE (JAN EN DE OUWE DAME sou dit in Nederlands kon heet). Dit vertel die verhaal van ? lewenswyse troebadoer en ‘n verdwaasde pianis wat saam uit hulle misverstande leer dat humor die seer kan versag, en dat liefde in die kleinste gebaar van menslikheid teruggevind kan word. JANNIE EN DIE TANNIE het gehore dwarsoor Suid-Afrika, asook op ‘n toer in Kanada en die VSA laat skaterlag en ook aangegryp – daar is bekende musiek, maar ook nuwe komposisies, en die aanbieding getuig van die deurwinterde tweetal se kenmerkende vitaliteit en gehalte.

 
© Kopiereg 2008

Copyright©2008. All rights reserved
Best Browser - Internet Explorer 6; Resolution - 800x600
Hosted by
Interexcel - Web Design and web site design are the specialists of this Pretoria based company.